HOUTVERSORGINGS
EN ONDERHOUDS-
PRODUKTE

Skakel Ons Toegewyde Tolvry Hulplyn: 0800 411 200

FAQS & VRA DIE KENNERS

TUIS / GEREELDE VRAE & KENNERS

Klik op enige van die skakels hieronder vir "Gereelde Vrae" (Frequently Asked Questions) of vul

die aanlynvorm in en een van ons kenners sal so gou as moontlik op jou navraag reageer.

Kan binnenshuise verseëlaars buite gebruik word en kan buitenshuise verseëlaars binne gebruik word?

Die binnenshuise verseëlaars kan nie buite gebruik word nie. Hulle verskaf nie beskerming teen die son nie aangesien hulle nie UV-weerders bevat nie. Die buitenshuise verseëlaars kan wel binne gebruik word, maar sal langer neem om droog te word as buite. Dit word aanbeveel dat binnenshuise verseëlaars binne gebruik word en buitenshuise verseëlaars buite.

Is die verskillende binnenshuise verseëlaars verenigbaar? Kan Woodoc 20 bv. oor Woodoc 10 aangewend word?

Die verskillende binnenshuise verseëlaars is verenigbaar en kan oor mekaar aangewend word, maar die oppervlak moet eers goed skoongemaak/geskrop word met staalwol en minerale terpentyn.

Is die verskillende buitenshuise verseëlaars verenigbaar? Kan Woodoc 30 bv. oor Woodoc 50 aangewend word?

Die verskillende buitenshuise verseëlaars is verenigbaar en kan oor mekaar aangewend word, maar die oppervlak moet eers goed skoongemaak/geskrop word met staalwol en minerale terpentyn.

Kan binnenshuise verseëlaars oor buitenshuise verseëlaars en buitenshuise verseëlaars oor binnenshuise verseëlaars aangewend word?

Dit word nie aanbeveel nie, aangesien die buitenshuise produkte spesiaal geformuleer is vir buitenshuise toestande en die binnenshuise produkte vir binnenshuise toestande.

Kan Woodoc-verseëlaars oor ander verseëlaars/sanding sealers/vernisse/verwe aangewend word?

Omdat Woodoc-verseëlaars penetrerende verseëlaars is, moet hulle op kaalgeskuurde oppervlakke aangewend word sodat hulle die hout diep kan binnedring om die hout te voed en daarmee te bind ten einde 'n beskermende laag op die oppervlak te vorm. Woodoc-verseëlaars moet dus NIE oor ander vernisse, verseëlaars, verwe of sanding sealers aangewend word nie.

Kan ander verwe/vernisse/verseëlaars oor Woodoc-produkte aangewend word?

Die meeste olieverwe met minerale terpentyn as oplosmiddel kan oor Woodoc gebruik word. Dis egter die beste om die vervaardigers van enige ander produkte te raadpleeg om uit te vind of hulle produkte oor Woodoc-produkte aangewend kan word.

Hoe om te verseker dat Woodoc 5 nie 'n blink/glansafwerking gee nie?

Roer die blik baie goed voor asook gedurende aanwending. Moenie in direkte sonlig aanwend nie. Werk af met fyn staalwol en Woodoc Diep Penetrerende Meubelwas vir 'n gladde "geoliede" afwerking nadat die derde laag Woodoc 5 droog geword het.

Hoe om te verseker dat Woodoc 10 nie 'n blink/glansafwerking gee nie?

Skuur liggies met fyn staalwol en Woodoc Diep Penetrerende Meubelwas nadat die derde laag droog geword het. Dit sal 'n lieflike gladde fluweelafwerking gee.

Waarom laat 'n nat glas watermerke ten spyte daarvan dat die oppervlak verseël is met 'n Woodoc Binnenshuise Verseëlaar?

'n Watermerk is 'n aanduiding dat daar nie genoeg verseëlaar aangewend is nie. Die aanwending van drie kwistige lae verseëlaar, volgens die aanwendingsinstruksies, sal watermerke voorkom.

Waarom laat die Woodoc Binnenshuise Verseëlaars soms 'n onegalige/streperige afwerking op houtsoorte soos Imbuia en African Padauk?

Hierdie houtsoorte is olierig en moeilik om af te werk. Die hout behoort baie deeglik met staalwol en minerale terpentyn geskrop te word voordat 'n Woodoc-verseëlaar aangewend word. Vee droog af en wend aan. Moenie vir dae lank wag voordat 'n verseëlaar aangewend word nie, anders sal die olie weer uit die hout begin kom.

Waarom sou Woodoc Binnenshuise Verseëlaars afdop?

Hulle kan afdop indien dit oor ou vernis of politoer aangewend is of indien daar olie in die hout is wat die penetrasie/binnedringing van die verseëlaar verhoed. Klam hout kan ook die verseëlaar laat afdop aangesien die vog sal keer dat die verseëlaar die hout binnedring.

Verleen Woodoc 25 'n blink afwerking?

Woodoc 25 is beskikbaar in twee afwerkings:

  • Satyn - 'n glansafwerking en
  • Mat - 'n matafwerking


Kan Woodoc-verseëlaars op "veneers"(fineerhout) gebruik word?

Woodoc-produkte is geformuleer vir gebruik op soliede hout en daarom is daar produkte wat glad nie op veneer gebruik kan word nie, soos Woodoc 5 en Woodoc 10. Woodoc 20, Woodoc 25 (Satyn & Mat) en Woodoc 2000 kan wel op nuwe veneer gebruik word.

Watter houtsoorte is geskik vir die aanwending van DECK Sealer?

Sagte, poreuse houtsoorte soos dennehout en meranti.

Watter houtsoorte is geskik vir die aanwending van DECK Dressing?

Harde, digte houtsoorte soos balau, iroko, kari, teak (kiaat) of saligna.

Watter soort afwerking verleen die DECK Sealer?

'n Laeglansafwerking.

Waarom 'n DECK Sealer terwyl Woodoc 55 ook geskik is vir sagte, poreuse dekke?

Verbruikers wou 'n laeglansafwerking vir dekke hê. Indien 'n klant 'n hoëglansafwerking verkies, kan hy steeds Woodoc 55 gebruik.

Oppervlakvoorbereiding voor die aanwending van DECK Sealer?

Dieselfde as vir enige ander Woodoc Buitenshuise Verseëlaar.

Kan die DECK Sealer op ander opppervlakke as dekke gebruik word?

Woodoc Deck Sealer is ook geskik vir vensterrame, deure, hekke waar 'n getinte, laeglansafwerking verlang word.

Watter soort afwerking verleen die Woodoc DECK Dressing?

Die afwerking sal varieer van mat tot glans, afhangende van aanwending, produkopbou, houtsoort - dit sal meer mat lyk op meer poreuse houtsoorte. Dit sal 'n blinker voorkoms hê op digte olierige houtsoorte en sal gouer afloop en verweer.

Oppervlakvoorbereiding voor die aanwending van DECK Dressing?

Verwyder/skuur enige ou vernis of verseëlaar af. Dit is baie belangrik dat dit op 'n onverseëlde of kaal oppervlak aangewend word. Indien die oppervlak voorheen geolie was/Woodoc Penetrerende Weerbestande Was daarop gebruik was, moet dit goed geskrop word met 'n harde borsel en minerale terpentyn.

Kan die DECK Dressing oor ou vernis/verseëlaar aangewend word wat slegs gedeeltelik verweer het en wat nie heeltemal verwyder/afgeskuur is nie?

NEE! Indien die DECK Dressing oor ou verseëlaar/vernis aangewend word, sal dit nie die hout kan binnedring nie. Dit sal drogingsprobleme veroorsaak en wanneer die ou verseëlaar/vernis begin afdop, sal die DECK Dressing ook afdop.

Is die DECK Dressing 'n verseëlaar of 'n olie?

Nie een van die twee nie. Dit kan tussen 'n olie en 'n verseëlaar geplaas word. Dit sal langer hou/beter werk as 'n olie, maar nie so lank hou/so goed werk as 'n verseëlaar nie. Omdat dit nie 'n verseëlaar is nie, vorm dit nie 'n harde lagie op die oppervlak nie.

Sal die DECK Dressing hout teen vogtigheid beskerm?

Ja.

Wanneer behoort die DECK Dressing weer aangewend word?

Elke ses maande, of wanneer die hout droog lyk. Porositeit speel ook 'n rol. Hoe meer poreus die hout is, hoe meer dikwels sal dit aangewend moet word.

Wat moet gedoen word voordat die DECK Dressing weer aangewend word?

Maak skoon met 'n harde borsel en minerale terpentyn voor heraanwending.

Drogingstyd vir DECK Dressing?

Tot 2 dae per laag.

Wat van swamme en swamgroei?

Die DECK Dressing bevat 'n droëfilm-swamdoder. Dit sal swamgroei beveg en steeds omgewingsvriendelik wees. Dit is 'n swamdoder, nie 'n insekdoder nie en is goedgekeur deur die EU (Europese Unie). Maar:

  • Dit is nie 'n houtpreserveerder nie.
  • DECK Dressing behoort nie op onbehandelde hout gebruik te word nie - hout moet eers teen insekte behandel word.
  • Klimaatstoestande speel ook 'n rol: in tradisionele bedompige areas, bv. Durban, kan swamgroei steeds sporadies voorkom.


Waarom word die DECK Dressing nie hard nie?

Omdat harde digte houtsoorte meer uitsit op 'n warm dag as sagte poreuse houtsoorte, is die DECK Dressing "sagter" om meer buigsaam te wees en om saam met die hout te kan beweeg.

Kan die DECK Dressing slegs op dekke gebruik word?

Die DECK Dressing kan ook gebruik word op vensterrame, deure en hekke wat van harde digte houtsoorte gemaak is, maar dit sal gereeld gedoen moet word. Moenie dit op tuin- /patiomeubels gebruik nie. Omdat die produk nie 'n harde laag vorm nie, kan dit afgee aan stoelkussings en klere.

Kan ander Woodoc-verseëlaars oor DECK Dressing aangewend word?

Ja, maar maak eers die oppervlak met 'n harde borsel en minerale terpentyn skoon.

DECK Sealer en DECK Dressing is beskikbaar in dieselfde kleure, maar lyk hulle ook eenders wanneer op hout aangewend?

Alhoewel die produkte dieselfde pigmentsamestelling het, sal dit nie noodwendig dieselfde lyk op hout nie. Die DECK Sealer vorm 'n lagie wat beter kleurontwikkeling sal gee, terwyl die DECK Dressing nie 'n lagie vorm nie en dus anders sal lyk.

Is dit nodig om tussen lae te skuur?

Dit is noodsaaklik om liggies met fyn staalwol te skuur om die houtvesels wat geneig is om regop te staan wanneer die verseëlaar aangewend word, glad te maak. As daar nie tussen lae geskuur word nie, sal die afwerking grof wees.

Waarom word die verseëlaars dik in die blikke en hoe kan dit voorkom word?

Wanneer die blik oopgemaak en die verseëlaar gebruik word, kom suurstof die blik binne en dit laat die verseëlaar uiteindelik dik word.

  • Bêre die blik onderstebo.
  • Plaas die deksel altyd in dieselfde posisie terug deur die blik en die deksel met 'n koki-pen te merk.
  • Moenie direk met 'n hamer op die deksel kap nie, dit beskadig die deksel. Plaas liewer 'n plank oor die deksel en kap op die plank.
  • Dit is 'n goeie idee om die oorblywende verseëlaar in 'n kleiner blik of glasbottel met 'n lang nek uit te gooi.
  • Dit help ook om die blik kunsmatig vol te hou deur albasters in te gooi soos die verseëlaar gebruik word.


Wat om te doen wanneer die verseëlaar (meestal Woodoc 10) jellie word?

Alhoewel dit te laat is om die produk te verdun, kan hierdie "jellie" steeds met 'n lap aangewend word om 'n pragtige fluweelafwerking te gee.

Wat om te doen as die verseëlaar na aanwending taai bly en nie heeltemal droog word nie?

Maak goed skoon met staalwol en minerale terpentyn, laat droog word en wend volgende laag aan. Indien dit taai bly, moet oppervlak heeltemal afgeskuur word.

Waarom kan die Woodoc-verseëlaar soms van die oppervlak afgekrap word?

As die verseëlaar van die oppervlak afgekrap kan word, het dit waarskynlik nie behoorlik gedroog nie en moet kans gegee word om behoorlik te droog. In koue weer sal die verseëlaar langer neem om te droog. Daar kan egter ook 'n ander rede wees: indien daar enige olie/was/politoer in die hout is, sal dit die verseëlaar verhoed om behoorlik te droog. Indien dit nie binne 'n dag of twee droog nie, moet dit goed geskrop word met staalwol en minerale terpentyn.

Waarom weeg een liter Woodoc-verseëlaar nie een kg nie?

Dit het te doen met die digtheid van Woodoc-produkte. Water, wat 'n digtheid van 1g/ml het, word gebruik as 'n standaardmate vir digtheid en een liter water sal een kg weeg. Al die Woodoc-verseëlaars en -wasse het 'n digtheid van minder as 1g/ml en dit is hoekom een liter Woodoc nie een kg weeg nie, maar 'n bietjie minder, afhangende van die digthede van die roumateriale wat gebruik is.

Kan 'n Woodoc-verseëlaar bo-oor 'n spiritusbeits (spirits based stain) aangewend word?

Dit het te doen met die digtheid van Woodoc-produkte. Water, wat 'n digtheid van 1g/ml het, word gebruik as 'n standaardmate vir digtheid en een liter water sal een kg weeg. Al die Woodoc-verseëlaars en -wasse het 'n digtheid van minder as 1g/ml en dit is hoekom een liter Woodoc nie een kg weeg nie, maar 'n bietjie minder, afhangende van die digthede van die roumateriale wat gebruik is.

Waarom lyk die kleurlose verseëlaars nie kleurloos in die blik nie?

Dit word veroorsaak deur die roumateriale wat in die verseëlaars gebruik word. Die roumateriale lyk gekleurd, maar die verseëlaars sal kleurloos droog. Om te toets, wend verseëlaar op 'n deurskynende glaspaneel aan en laat droog word.

Hoe om te verhoed dat meubels dof en vaal/olierig/taai word wanneer Woodoc Diep Penetrerende Meubelwas gebruik word?

Die meubelwas moet spaarsamig gebruik word om 'n wasopbou te verhoed. Dit sal die meubels vaal en taai laat lyk. Moenie die was direk op die oppervlak spuit nie. Maak 'n lap klam met was en vee oor die oppervlak. Indien 'n wasopbou egter wel voorkom, kan dit maklik verwyder word met 'n lap/staalwol, klamgemaak met minerale terpentyn.

Wat is die verskil tussen Woodoc Diep Penetrerende Meubelwas en Woodoc Penetrerende Weerbestande Was?

Hierdie twee produkte is albei onderhoudswasse. Die enigste verskil is dat die Woodoc Penetrerende Weerbestande Was UV-weerders bevat en dus die ideale onderhoudsproduk vir 'n verseëlde buitenshuise oppervlak is. Woodoc Diep Penetrerende Meubelwas is 'n onderhoudsproduk vir binnenshuise oppervlakke. Die Woodoc Penetrerende Weerbestande Was kan wel binnenshuis gebruik word, maar die Woodoc Diep Penetrerende Meubelwas kan glad nie buite gebruik word nie.

Kan Woodoc Diep Penetrerende Meubelwas en Woodoc Antique Wax op French Polish gebruik word?

Ja, maar indien 'n hoë glans op die French Polish verlang word, word die gebruik van Woodoc Antique Wax aanbeveel.

Kan Woodoc Penetrerende Weerbestande Was op ongeseëlde tuin-/patiomeubels gebruik word?

Ja, maar dit sal baie min beskerming aan onverseëlde oppervlakke bied. Die oppervlakke behoort met 'n Woodoc Buitenshuise Verseëlaar verseël te word en die Woodoc Penetrerende Weerbestande Was behoort vir onderhoud gebruik te word. Dit sal die hout deur die verseëlaar voed en die verseëlaar langer laat hou.

Waarom het die verseëlaar nie lank gehou nie/binne slegs 'n paar maande begin biodegradeer/vergaan?

Daar is nie genoeg produk aangewend nie. Dit is baie belangrik om 3 behoorlike lae aan te wend. Getinte verseëlaars, soos Woodoc 35/Woodoc 55 sal langer hou as hul kleurlose eweknieë, Woodoc 30/Woodoc 50. Die deurskynende ysteroksiede in die getinte produkte verskaf ekstra beskerming teen die UV-strale van die son.

Waarom het die verseëlaar afgedop?

Daar is nie genoeg verseëlaar aangewend nie of daar was nog olie/ou vernis op die oppervlak toe die verseëlaar aangewend is. Indien die hout klam is, sal die verseëlaar ook afdop.

Waarom het die verseëlaar wit merke gemaak?

  • Die buitenshuise verseëlaars maak gewoonlik wit merke indien dit nat word voordat dit droog geword het, bv. indien dit natreën kort na aanwending. Indien dit gebeur moet die oppervlak weer afgeskuur en van vooraf verseël word.
  • Klammigheid kan ook wit merke veroorsaak.
  • Die gebruik van lakverdunner (thinners) kan ook hierdie probleem veroorsaak.


Waarom het die verseëlaar taai gebly lank nadat dit al droog moes gewees het?

  • Indien die hout nat/klam was, sal die verseëlaar nie behoorlik droog word nie en taai bly.
  • Indien daar nog olie in die hout was, kan die verseëlaar ook taai bly.
  • Die gebruik van lakverdunner (thinners) kan ook hierdie probleem veroorsaak.


Skrop goed met staalwol en minerale terpentyn in al drie gevalle en wend nog verseëlaar aan.

Waarom was daar geen kleuropbou nie?

Die finale kleur word oor die drie lae opgebou. Geen kleur beteken gewoonlik dat daar nie genoeg produk aangewend is nie. As die hout baie poreus is, sal die produk baie penetreer en sal baie produk aangewend moet word om behoorlike kleuropbou te verkry. Roer goed voor, sowel as gedurende aanwending.

Waarom is die afwerking streperig en onegalig?

Dit gebeur gewoonlik wanneer die produk nie goed genoeg geroer is nie en die Kleur/Beitskonsentraat gaan lê op die bodem van die blik. Roer altyd baie goed voor, sowel as gedurende aanwending.

Waarom voel die Colours-bottel swaarder as die Stain Concentrate-bottel alhoewel dit ewe groot is?

Die bottels is ewe groot, maar nie die volume van die inhoud nie. Die digtheid van die Colours is ook baie hoër as die Stain Concentrate s'n. Alhoewel die bottels ewe groot is, bevat die Colours-bottel 25 ml vloeistof en die Stain Consentrate-bottel 20 ml.

Kan die Stain Concentrates of Colours met enigiets behalwe 'n Woodocverseëlaar verdun word?

Nee, hulle kan slegs in 'n Woodoc-verseëlaar gebruik word.

Kan die Stain Concentrates/Colours of Gel Stain direk op hout aangewend word?

  • Die Stain Concentrates en Colours is spesiaal geformuleer om in 'n Woodoc-verseëlaar gebruik te word en kan dus nie direk op hout aangewend word nie.
  • Die Gel Stain is 'n "wipe-on"-produk en moet direk op hout aangewend word.


Werk die Stain Concentrates of Colours ewe goed in al die Woodoc-verseëlaars?

Hoe blinker die produk is, hoe meer intens sal die kleuropbou wees. Indien die Stain Concentrates/Colours saam met Woodoc 20 gebruik word, sal dit 'n meer intense kleur gee as wanneer dit in Woodoc 5 gebruik word. Vermy die gebruik van die Ebony Stain Concentrate in Woodoc 5 aangesien dit nie goeie kleuropbou gee nie.

Beskerm Gel Stain die hout?

Nee, die hout moet na aanwending van die Gel Stain verseël word.

Hoe lank nadat Gel Stain aangewend is, kan die hout verseël word?

Die hout kan verseël word een uur nadat Gel Stain aangewend is.

Waarmee kan Gel Stain aangewend word?

Met 'n spons of sagte lap.

Hoe om die spons/lap skoon te maak nadat Gel Stain gebruik is?

Dis beter om die spons/lap weg te gooi, maar dit kan met water skoongemaak word. Moenie minerale terpentyn gebruik nie..

Kan Gel Stain op verseëlde/verniste of geoliede hout aangewend word?

Nee, Gel Stain kan slegs op kaalgeskuurde hout aangewend word.

Kan die hout met ander verseëlaars/vernisse (nie Woodoc) behandel word nadat Gel Stain gebruik is?

Ja.

Is Gel Stain 'n waterbasisproduk?

Nee, Gel Stain is nie 'n waterbasisproduk nie, maar dit bevat 'n wateroplosbare oplosmiddel en is dus verenigbaar met water.

Kan daar meer as een botteltjie Stain Concentrate of Colours by een liter Woodocverseëlaar gegooi word?

Ja, maar dit kan die droging van die verseëlaar wat saam met die Stain/Colours gebruik word, vertraag. Dit kan ook die voorkoms van die afwerking beïnvloed. Die maksimum wat bygevoeg kan word, is 3 X 20 ml Stain botteltjies of 3 X 25 ml Colours in een liter Woodoc-verseëlaar.

KRY INSPIRASIE - gallerye & Doen-dit-self-videos

SOEK 'N WINKEL – vind die winkel naaste aan jou

KRY INSPIRASIE - gallerye & Doen-dit-self-videos

SOEK 'N WINKEL – vind die winkel naaste aan jou