home
contact us
Woodoc wys jou hoe
Doen-Dit-Self: Drie Stoele, Woodoc en 'n bietjie inisiatief...
Kliënte-ondersteuning in Suid-Afrika

Woodoc bied 'n gratis Kliënte- en Adviesdiens:

TOLVRY 0800 411 200

of stuur 'n e-pos

HOOFKANTOOR
+27 46 645 1109 (Tel)
+27 46 645 1538 (Faks)

Posadres:
Posbus 16
Fort Beaufort
5720

Straatadres:
Durbanstraat 20
Fort Beaufort
5720

WASP Eksamen Stelsel
Woodoc Geakkrediteerde Verkoopspersoon
login

Drie stoele, drie scenarios!  Tegnieke om stoele na hul oorspronklike prag te herstel.  Hierdie artikel sal jou wys hoe om met voorheen-geoliede/gepoleerde stoele, voorheen-verlakte/verniste stoele en voorheen-geverfde stoele te werk te gaan.  Hierdie tegnieke kan met 'n bietjie aanpassing op soortgelyke meubelstukke gebruik word.

OM VAN 'N OU GEOLIEDE OF GEPOLEERDE AFWERKING ONTSLAE TE RAAK

Voordat die eerste stap, naamlik om die hout skoon te maak, gevolg kon word, moes ons die ou rottang verwyder.  Die rottang was aan die stoel se rugkant vas met ‘n rottangstrook en gom wat in ‘n stutgroef gedruk is.  Om skade aan die hout rondom die groef te voorkom, het ons ‘n skerp matmessie rondom die rande gebruik  Daarna het ons ‘n dun beitel, effens nouer as die groef, gebruik om die rottangstrook en ou rottang uit te krap. (‘n Klein skroewedraaier kon ook gebruik gewees het.)

Hier volg ons drie stappe nou!



Skoonmaak van die hout

Ons het eers ‘n lap, goed deurweek met minerale terpentyn, gebruik om die ou vuiligheid en so veel as moontlik van die ou politoeropbou af te vee.

Daarna het ons Medium Woodoc StaalWol en minerale terpentyn gebruik om al die ou politoer te verwyder – onthou om heeltyd saam met die grein van die hout te werk.

Ten laaste het ons ‘n stewige/harde plastiekborsel en minerale terpentyn gebruik om in die groewe van die kopstuk en bal-en-kloupote skoon te maak. Die hout is vir oulaas afgevee met ‘n lap, klam gemaak met minerale terpentyn, en laat droog word.

 

Voorbereiding van die hout

Die stoel was van ‘n hardehoutsoort gemaak (in hierdie geval stinkhout).  Die grein het nie juis regop gestaan nie.  Al wat nodig was, was ‘n versigtige en deeglike skuur met Fyn Woodoc StaalWol.

Net om seker te maak, het ons dit twee keer gedoen. Ons het die hout geskuur en dit baie goed afgestof. Ons het dit weer geskuur en spesiale aandag gegee aan dié dele  wat dalk die eerste keer nie goed genoeg gedoen is nie.

Laastens het ons die stoel afgevee met ‘n lap, klam gemaak met minerale terpentyn, en dit toe laat droogword.

 

Om die hout te verseël

Ons keuse was Woodoc 5 vir ‘n natuurlike geoliede voorkoms.  Volgens die aanwysings op die blik het ons drie lae aangewend en liggies met Fyn Woodoc StaalWol na die eerste en tweede laag geskuur. 


OM VAN 'N OU VERLAKTE OF VERNISTE AFWERKING ONTSLAE TE RAAK



Die pragtige Amerikaanse hoërugstoele wat verlak was, het al verdof en begin lelik raak.

 

Skoonmaak van die hout

Om die ou lakwerk te verwyder, het ons ‘n goeie verfstroper gebruik en die aanwysings op die blik gevolg. 

Omdat byna die hele stoel vol rondinge en patrone was, het ons potskuurders gebruik om die verfstroper te verwyder, en die hele tyd saam met die grein van die hout gewerk.

Om in die groewe skoon te maak, het ons nog verfstroper aangewend en

‘n plastiekborsel  gebruik. ( Deur die plastiekborsel te gebruik, het ons dus nie ‘n harde skuurmiddel teen die grein gebruik nie.) Die borsel is ook gebruik om die patrone op die kopstuk skoon te maak.

 

Voorbereiding van die hout

Die verfstroper wat dalk nog op die hout agtergebly het, is met minerale terpentyn van die hout afgevee.  Toe is die hout behoorlik laat droog word.  Soos met die stinkhoutstoel, is Fyn Woodoc StaalWol gebruik om die oppervlak glad te maak. In die groewe  het ons baie liggies in die rondte met die staalwol geskuur.

Die stoele is behoorlik afgestof en toe afgevee met ‘n lap, klam gemaak met minerale terpentyn, om al die stof te verwyder.

 

Om die hout te verseël

Ons het Woodoc 10 met ‘n fluweelafwerking gebruik om by die styl van die stoele te pas.

Volgens die aanwysings op die blik het ons drie lae aangewend en liggies met Fyn Woodoc StaalWol geskuur na die eerste en tweede laag.


OM VAN OU VERF ONTSLAE TE RAAK



Hier het ons die geleentheid gehad om ‘n oninteressante wit geverfde stoel, waarvan daar baie in omloop is, in iets baie interessants te omtower. 


Skoonmaak van die hout

Daar is twee metodes om ou verf te verwyder:

 

1.  Met ‘n verfstroper:

Gebruik ‘n goeie verfstroper en volg die aanwysings.

Ons het ‘n kombinasie van ‘n driehoekige skraper op die plat oppervlakke en potskuurders op die geronde dele gebruik.

 

2.  Met ‘n warmlugspuit

Dit is duur om ‘n warmlugspuit  vir net een projek te koop, maar dis oor die algemeen vinniger en skoner om mee te werk as ‘n verfstroper.  ‘n Driehoekige skraper behoort gebruik te word om jou hande van die hitte weg te hou.  Wees ook versigtig om nie die hout te skroei nie.

 

By albei metodes moet seker gemaak word dat al die ou verf uit die voeë en krake verwyder word.  Ons het die punt van ‘n matmessie versigtig gebruik om in die krake en hoeke te kom.

 

Voorbereiding van die hout

Nadat al die verf verwyder is, is die stoel goed afgevee met ‘n lap, klam gemaak met  minerale terpentyn, en laat droog word.  Ons het  80-grint skuurpapier op die gelyk oppervlaktes gebruik om die laaste verf uit die grein van die hout te verwyder.  Daarna het ons geleidelik fyner en fyner skuurpapier gebruik – tot by 240-grint - om die oppervlaktes heeltemal glad te maak.

Medium Woodoc StaalWol, gevolg deur Fyn Woodoc StaalWol, is gebruik op die geronde dele om dit ook glad te maak.

Ons het die stoele toe goed afgestof en afgevee met ‘n lap geweek in minerale terpentyn.

 

Om die hout te verseël

Ons het Woodoc 10, gekleur met Knysna Groen, gebruik.  Wend altyd drie lae Woodoc verseëlaar aan.  Indien die gewenste kleurskakering na die eerste of tweede laag verkry word, wend die orige laag/lae met ongekleurde W10 aan.  Daar is 20 Woodoc-Kleure om uit te kies. Ons op Knysna Groen gekies en sal Kalahari Rooi vir die ander stoel gebruik.


Benodighede:

  • Minerale Terpentyn
  • Staalwol
  • Matmes/Dun Beitel
  • Verfkwaste
  • Harde Plastiekborsel
  • Skuurpapier
  • Woodoc 5 & 10 & 20
  • Woodoc Kleure
  • Verfstropers/Warmlugspuit
  • Stoflap
  • Potskuurder